Wolwekas - ’n stasie vol stories, idees, musiek en pret vir die moderne vrou.

Wolwekas is ’n kreatiewe wêreld vir vroue wat ruimte soek om te droom, dink, dans, speel en rus.

Dis ’n plek waar verskillende dele van vrouwees erken word: die een wat dink, die een wat voel, die een wat beweeg, die een wat begeer, en die een wat net wil asemhaal.

Wolwekas gebruik argetipes, kleur, taal en beeld om stories en ervarings te verwoord wat nie altyd in gewone boeke of etikette pas nie — nie om antwoorde te gee nie, maar om herkenning te skep.

Agter elke deur sal jy stories, beelde en idees vind wat speel met identiteit, ritme, begeerte en rus.
Soms lig. Soms ernstig. Soms net mooi.


My ouma was ‘n bibliotekares uit Amsterdam
Sy het gekom op die Dromedaris
Ander se stories hier kom bêre
Sodat ek my eie verhaal kan skryf

-droomwolf


My ouma was 'n kind uit Berlin
Sy het gekom op die wind
Haar glitter hier kom strooi
Sodat ek onder diamante kan dans

-danswolf


My ouma was ‘n developer langs Steve Jobs
Sy het gekom in 'n algoritme
Haar kode hier kom versteek
Sodat ek Bitcoins kan ontgin

-dinkwolf


My ouma was 'n prostituut uit Frankryk
Sy het gekom op die rug van 'n man
Haar bed hier kom maak
Sodat ek tussen die lakens kan lag

-fokwolf


My ma is ‘n vrou in Gauteng
Sy het gebly omdat sy moes
Haar klippe daar gekou
Sodat ek my eie huis hier kan bou

-huiswolf